Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 11 SEPTEMBER 2016

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuusbulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL STIG DIGITALE HERHALER SUBKOMITEE

UITSLAE VAN DIE SARL HF FOON, DIGITALE EN GELYKGOLF KOMPETISIES

TRANSATLANTIESE TOETSE BENADEEL DEUR SLEGTE WEER EN STERK WIND

"ENIGMA RELOADED" 2016

SAAMTREK OP DIE LUG

PROJEK LEXICON NOG IN VOLLE GANG

OKTOBER 2016 RAE

OOS RAND SNUFFEL- EN KATTEBAK MARK

OVERBERG AMATEUR RADIO KLUB ANTENNA PARTYTJIE

HF VOORTPLANTINGVOORSPELLING

en

DAGBOEK VAN GEBEURE

** Die SARL stig 'n Digitale Herhaler Subkomitee. Die SARL herhaler koördineerder, Ronald Verweerdt ZS6RVC sal die sameroeper van die subkomitee wees en die doel van die subkomitee is om die tegnologie rondom digitale herhalers, die skakels tussen hulle, en hul gebruik te koördineer en te bevorder.

** Na aanleiding van 'n navraag en 'n paar steekproewe, het die Kompetisie Komitee besluit om al die logstate wat ontvang is vir die drie HF Kompetisies na te gaan. 'n Fout is in 'n formule in die Excel logstaat gevind en daar is bevind dat sekere gebiede nie korrek opgetel is nie. Die Komitee vra om verskoning vir die verkeerde uitslae wat in HF Happenings asook in SARL Nuus gepubliseer is.

Uitslae van die SARL HF-foonkompetisie

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 200 punte
2de Barry Nugent, ZS2NF, 128 punte
3de Theo Bresler, ZS6TVB, en Mitchell Mynhardt, ZS6YH, 120 punte elk

Deon Fraser, ZS5DCF, het die meeste punte op 'n enkele band behaal met 119 punte op 40 meter.

Klubkompetisie

1ste Bloemfontein ARK, 200 punte
2de Pretoria ARK, 187 punte
3de Oosrand-Tak, 120 punte

Uitslae van die SARL HF Digitale Kompetisie

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 106 punte
2de Paul Greeff, ZS6IO, 54 punte
3de Mitchel Mynhardt, ZS6YH, 52 punte

Jan Botha, ZS4JAN, het die meeste punte op 'n enkele band behaal met 70 punte op 40 meter.

Klubkompetisie

1ste Bloemfontein ARK, 126 punte
2de Magalies ARK, 54 punte
3de Oosrand-Tak, 52 punte

Uitslae van die SARL HF Gelykgolf Kompetisie

Die Kompetisie Komitee het 13 logstate ontvang vir die SARL HF Gelykgolf Kompetisie.

1ste Vidi la Grange, ZS1EL, 116 punte
2de Wesrand ARK, ZS6WR (bedien deur Joop, ZS6JP), 108 punte
3de John Kramer, ZS5J, 106 punte
4de Barry Nugent, ZS2NF, en Jan Botha, ZS4JAN, 86 punte elk

Vidi la Grange, ZS1EL, het die meeste punte op 'n enkele band behaal met 60 punte op 40 meter.

Klubkompetisie

1ste Overberg ARK, 116 punte
2de Wesrand ARK 108 punte
3de Zululand ARK, 106 punte

Gekombineerde uitslae van die SARL HF Foon, Digitale en Gelykgolf Kompetisies

1ste Jan Botha, 392 punte
2de Mitchel Mynhardt, ZS6YH, 258 punte
3de Barry Nugent, ZS2NF, 214 punte

Klubkompetisie

1ste Bloemfontein ARK, 412 punte
2de Centurion ARK, 191 punte
3de Pretoria ARK, 187 punte

Baie geluk aan al die wenners!

** Die sluitingsdatum vir jou SARL Nasionale Velddag logstate is middernag op Sondag 16 September 2016 en moet gestuur word aan zs4bfn@mweb.co.za

** Volgende naweek het jy die keuse om deel te neem aan twee verskillende kompetisies of selfs aktiwiteite te kombineer. Die tweede been van die SARL BHF/UHF analoog en digitale kompetisie sal op die lug wees vanaf 10:00 UTC op Saterdag 17 September tot 10:00 UTC op Sondag 18 September 2016 met foon, gelykgolf en digitale modusse op 6, 4 en 2 meter, 70 en 23 cm en hoër.

Die tweede wedstryd volgende naweek is die All Africa All Mode DX kompetisie, wat op die lug sal wees vanaf 12:00 UTC op Saterdag 17 September tot 12:00 UTC op Sondag 18 September 2016 met foon, gelykgolf en RTD op 160 tot 10 meter. Dit is die wêreld werk Afrika of Afrika werk die wêreld.

Die reëls vir beide wedstryde kan gevind word in die 2016 Blouboek en die September 2016-uitgawe van Radio ZS.

** Pieter Jacobs, V51PJ, op Rosh Pinah het ons meegedeel oor Transatlantiese toetse op 144 MHz wat gedoen is tussen Namibië en Brasilië met Marcos Turbo, PY1MHZ. Marcos het vroeg in Augustus na die kus gegaan, maar tydens toetse het die wind sterk begin waai, bome is ontwortel en hy moes oppak en weer terugbeweeg na die binneland. Dus is geen seine tydens hierdie vroeë toetse ontvang nie. Hulle gaan weer probeer in Januarie 2017 wanneer weersomstandighede baie beter behoort te wees. Hulle beplan ook ‘n paar 50 MHz toetse sodra Pieter sy koppeltoestel vir sy Yagi ontvang het. Toetse met ZD7VC het nog nie begin nie weens slegte weersomstandighede om St. Helena Eiland en swak voortplantings toestande. Tweerigting kontakte op 144 MHz tussen Namibië en so ver suid as Kaapstad behoort maklik te wees tydens goeie Tropo Geleiding openinge.

** “Enigma Reloaded” vind plaas van 17 September tot 1 Oktober.

Die hoofdoel van die Enigma Gebeurtenis is om so veel as moontlik amateurradio aktiwiteit regoor die wêreld te bevorder en ook om die geskiedenis van die Enigma syfer masjien en die kritieke rol wat hierdie masjien in die uitkoms van die Tweede Wêreldoorlog gespeel het, te vier. Kennis oor die sleutelfigure wat bygedra het tot die ontsyfering van die kode sal ook versprei word.

Die Enigma Gebeurtenis 2016 sal in twee fases plaasvind:

- Van 17 tot 30 September 2016 sal Italiaanse en buitelandse Amateur radio stasies geregistreer as "Aktiveerder stasies" die aktivering van hul radio stasie verseker om sodoende die deelnemers toe te laat om punte te kry vir die “Enigma Toekenning".

- Op 1 Oktober, die laaste dag van die gebeurtenis, sal die Aktiveerder Stasies vooraf gedefiniëerde gelykgolf boodskappes wat deur ‘n regte of nagebootste Enigma masjien gekodeer is, uitruil.

Alle besonderhede en reëls is beskikbaar op die amptelike webtuiste www.enigma-reloaded.it

** JOTA (Saamtrek op die Lug) vier vanjaar sy 59de jaar en ons benodig Amateurs en Klubs om te help met die opstel van HF stasies vir ‘n dag of ‘n hele naweek vir Padvinder Groepe regoor die land. JOTA vind hierdie jaar plaas van 15 tot 17 Oktober.

Hierdie is ‘n groot gebeurtenis wat werklik die jeug se belangstelling in ons stokperjie aanwakker. Kontak gerus vir Richard, ZS6RKE by jotajoti@sandringhamscouts.co.za of op 082 801 5006 vir meer inligting en ‘n lys van Padvinder Groepe in jou omgewing.

** Projek Lexicon is nog in volle gang, met die woordelys wat aansienlik gegroei het en die inhoudsopgawe van die onderwerpe wat deel van die handleiding vorm wat ook nou reeds gefinaliseer is. Die volgende stappe is om die eerste weergawe van die woordelys einde September 2016 te finaliseer vir hersiening. Inhoud vir die handleiding moet nou bymekaar gemaak word en baie skryfwerk lê nou voor. Die projekspan gaan binnekort 'n uitnodiging aan die Radio Amateur gemeenskap rig om bydraes te skryf vir die handleiding. Ons beplan om die onderwerpe in bondels van 5 onderwerpe op 'n slag bekend te stel sodat ons die inhoud vir die verskeie onderwerpe in kleiner hoeveelhede kan bymekaar maak en om almal wat 'n bydrae wil lewer, 'n geleentheid te gee om deel van die skryf van die handleiding te wees. Vir meer inligting omtrent Projek Lexicon, kontak Etienne Naudé, ZS6EFN by etienne@afrigrid.com

** Inskrywings vir die Oktober 2016 RAE sluit op 15 September. GEEN laat inskrywings kan aanvaar word nie. Slegs kandidate wat ALLE dokumentasie en die betalingsbewys op die stelsel gelaai het, sal van 'n eksamennommer en eksamensentrum voorsien word. Enige inskrywings waar inligting ontbreek, sal oorstaan tot die RAE in Mei 2017.

Klas B (ZU) amateurs wat oor die ouderdom van 25 jaar is, word ook herinner dat hierdie komende RAE die laaste kans is om op te gradeer na 'n Klas A lisensie.

** Die SARL het die volgende aansoeke om lidmaatskap ontvang:

ZS1FC Chris Pretorius
ZU6LR Louise Roux
ZSL1167 Joshua Koekemoer

Enige besware teen die aansoeke moet die SARL sekretaris voor of op 14 September bereik. Stuur n epos aan secretary@sarl.org.za

Lede reeds hernu: 1404
Klubs / Affiliasies: 40

** Oos Rand Radio Klub hou weer hul gereelde Oktober amateurradio geselligheid, snuffelmark en kattebak mark op 1 Oktober 2016 by die klubgronde in Arrowe Park Benoni.

Tafels en die kattebak mark is R20.00 per persoon wat verkoop. Tafels kan bespreek word deur ‘n e-pos aan zs6erb@gmail.com te stuur.

Verversings en heelwat stoele en skaduwee sal beskikbaar wees. Bring gerus die gesin vir ‘n piekniek by die dam en geniet egte amateurradio gees.

Klub 675 sal oop wees en aktief wees op 145.675 FM en ook 438.975 FM.

Verkope begin om 12:00 SAST.

Sien jou by die Oos Rand amateurradio geselligheid, snuffelmark en kattebak mark op 1 Oktober 2016.

** Op Saterdag 3 September het die Overberg Amateur Radio Klub ‘n klein antenna partytjie in Barrydale gehou om OM Mickey Warr, ZS1WA, weer op die lug te kry. Drie lede was teenwoordig, naamlik Greg, ZS1EZ, Steve, ZS1BBG, André, ZS1AZ, en hul XYLe. Hulle het omtrent 10:00 opgedaag en vinnig was die pale regop en die G5RV in die lug. ‘n Gat in die muur vir die koaksiale kabel, die instel van die radio en Mickey was weer op die lug. Alle dank aan Joan vir die lieflike middagete wat sy voorberei het. Dankie ook aan al die lede wat slegs in gees daar kon wees.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Nuwe sonvlek AR2585 is groot maar tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van 24 vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20m bande verwag. Daar is ook 'n moontlikheid van 10m openinge op sonlig paaie.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

10 – 11 September – SARL Nationale Velddag
11 September – SARL Jeug Net
17 – 18 September – All Africa DX Kompetisie
17 – 18 September – SARL BHF/UHF Kompetisie
24 September – KARTS Snuffelmark
24 – 25 September – CQ WW RTTY Kompetisie
1 Oktober – Lente QRP Naelloop
6 Oktober – SARL 80m QSO Partytjie
8 – 9 Oktober – AWA Buis QSO Partytjie
9 Oktober – SARL Jeug Net
13 Oktober – RAE Eksamen

Om die bulletin mee af te sluit ‘n opsomming van ons hoofberig: Die SARL stig 'n Digitale Herhaler Subkomitee. Die SARL herhaler koördineerder, Ronald Verweerdt ZS6RVC sal die sameroeper van die subkomitee wees en die doel van die subkomitee is om die tegnologie rondom digitale herhalers, die skakels tussen hulle, en hul gebruik te koördineer en te bevorder.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radio liga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum vooraf gaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radio liga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003